Home » News » Gebruik die wet op kubermisdade om jouself te beskerm

Gebruik die wet op kubermisdade om jouself te beskerm

“…cybercrime has increased by over 300% during the COVID-19 pandemic – making it one of the biggest threats to businesses around the globe.” (Volgens ‘n verslag op Property 24) 

Die Wet op Kubermisdade, wat jare al in aantog was, is nou (met ingang van 1 Desember 2021) uiteindelik grootliks van krag. Sommige bepalings word steeds opgehou, veral dié wat verband hou met “wraakpornografie” en die toestaan van beskermingsbevele. ‘n Hele reeks onwettige kuberverwante aktiwiteite word nou spesifiek gekriminaliseer.

Die polisie het wye magte van ondersoek, deursoeking, toegang en beslaglegging gekry, en die strawwe vir oortredings is aansienlik.

Die pandemie het ons gedwing om aanlyn van die huis af te werk, te koop en te kommunikeer. Hierdie aanlynkultuur het kubermisdaad met ongeveer 300% laat toeneem. Soos altyd is ons beste beskerming teen aanlyn misdadigers voorkoming. Enige iemand wat ongelukkig genoeg is om die slagoffer van kubermisdaad te word, moet weet dat die nuwe wet ons nou ‘n laag regsbeskerming bied wat ons nie voorheen gehad het nie. Ons moet dit wel gebruik en gevalle van kubermisdaad aanmeld.

Die nuwe misdaadkategorieë

Die Wet se bepalings is omvattend en kompleks, so hierdie is net ‘n baie kort opsomming. Op ‘n praktiese vlak moet ons weet dat sowel individue as organisasies nou vervolging in die gesig staar vir enige gevalle van –

  • Onregmatige toegang tot ‘n “rekenaarstelsel” of “rekenaardatabergingsmedium”
    (“hacking”).
  • Onregmatige onderskepping van of inmenging met data, rekenaarprogramme, databergingsmediums en datastelsels.
  • Onregmatige verkryging, besit, verskaffing of gebruik van wagwoorde, toegangskodes en soortgelyke inligting (PINs, toegangskaarte en toestelle ingesluit).
  • Kuberbedrog, vervalsing, afpersing en diefstal.
  • “Kwaadwillige kommunikasie” (wat per definisie boodskappe sal insluit wat per e-pos of via sosiale media-kanale, WhatsApp en so aan gestuur word) aan die algemene publiek, individue of groepe wat –
    • Mense aanhits om skade aan eiendom aan te rig of geweld aan ‘n persoon of persone aan te moedig;
    • ‘n Persoon of persone te dreig met skade aan hul eiendom of met geweld te dreig;
    • Maak ‘n “databoodskap van ‘n intieme beeld van ‘n persoon” openbaar sonder daardie persoon se toestemming, en ongeag of die slagoffer identifiseerbaar is in die beeld self of slegs uit ‘n beskrywing of ander verwante inligting identifiseerbaar is. Die beeld kan ‘n ware of werklike beeld wees of ‘n gesimuleerde beeld wees.

‘n Besondere waarskuwing aan gebruikers van sosiale media

Om enigiets te plaas of te deel wat deur die Wet verbied word – veral enige van die tipes “kwaadwillige kommunikasie” waarna hierbo verwys word – gaan jou duur te staan kom. Dink voordat jy dit plaas!

Wat van “wraakpornografie”?

Soos hierbo vermeld, is sommige van die Wet se bepalings wat spesifiek met “wraakpornografie” verband hou nog nie in werking nie. Daar is ook ander wetgewing wat dit verbied. Die oortredings wat hierbo genoem is en wat verband hou met die openbaarmaking van “intieme beelde” behoort slagoffers ten minste gedeeltelik te kan bystaan.


Die inligting hierin vervat is van ‘n algemene aard en moet nie as professionele advies gebruik word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u professionele adviseur vir spesifieke en toegepaste advies.